Suid-Afrika brand, maar onluste breek ook elders uit

(Published in De Kat Sept / Oct 2014 )

Stef Terblanche

In die voorlaaste dekade van die 20e eeu is Suid-Afrika vasgevang in van die ergste onluste in die land se geskiedenis.
Regoor die land was die townships aan die brand en die polisie, bygestaan deur die Weermag, het hul hande vol gehad. Dit was als deel van die laaste stuiptrekkings van apartheid. Maar elders in die wêreld het onluste, oproer en opstande ook in talle lande voorgekom.
In Suid-Afrika het die Soweto-onluste van 1976 as ’n draaipunt uitgestaan. Daarna het dinge nooit weer heeltemal tot ruste gekom nie en regdeur die tagtigerjare tot en met Suid-Afrika se eerste volwaardige demokratiese verkiesing in 1994 het dit erg gewoel.

Skole-boikot

Vir Suid-Afrika begin die tagtigerjare met ’n reuse skole-boikot waaraan duisende swart, bruin en Indiër skoliere en studente deelneem. In 1982 neem protes-aksies ook toe teen die die regering se voorgestelde nuwe grondwet en ras-gebaseerde driekamerparlement. Talle mense word aangehou en die skoleboikot brei uit.
Die United Democratic Front (UDF) word met 575 geaffilieerde organisasies geloods om verset teen apartheid en die nuwe ras-gebaseerde driekamerparlement te bied. Die nuwe grondwet tree in werking nadat wit kiesers dit goedkeur. Alle openbare vergaderings word verbied.
Teen 1984 is die gort behoorlik gaar. Die UDF en andere mobiliseer openbare protesaksies. Stempersentasies in die eerste verkiesing vir die nuwe bruin en Indiër kamers van die parlement is gevolglik baie laag. Onder druk bedank lede van swart gemeenskapsrade.  Meer as 1,550 mense word aangehou. Geweld neem toe, veral in die Vaal Driehoek. In November 1984 neem ongeveer ’n miljoen  werkers, studente en skoliere deel aan ’n wegbly-aksie.
Steeds versleg die situasie. In sowat 3,400 onrus voorvalle tussen 1984 en 1986 sterf honderde mense en word sowat 4,400 beseer. In die townships is die swart jeug besig om uitvoering te gee aan die ANC se oproep om die land onregeerbaar te maak.
Huise van swart raadslede en polisiemanne word afgebrand. Mense wat verdink word dat hulle meewerk met die owerhede word wreedaardig vermoor, dikwels met petrol-gevulde, brandende motorbande om hul nekke. Mense wat verbruikersboikotte van wit besighede verbreek word deur jeugdiges gedwing om hul inkopies letterlik te sluk – ongeag of dit kos, kookolie of seeppoeier is.
In 1985 kom gewelddadige botsings ook toenemend voor tussen verskillende politieke organisasies.

Noodtoestande

Op 25 Julie 1985 kondig President P W Botha ’n gedeeltelike noodtoestand af en binne die eerste ses maande sterf 575 mense. Op 7 Maart 1986 word die noodtoestand kortstondig opgehef.
Betogings, oproer en geweld duur voort en in afwagting van groter probleme rondom die naderende tiende herdenking van die Soweto-opstand verklaar Botha op 12 Junie 1986 weer ’n noodtoestand, die keer landswyd.
Teen 1989 kom die politieke onderhandelingsproses in Suid-Afrika kom aan die gang en die situasie begin stabiliseer. Dit gaan egter steeds gepaard met reuse optogte, ander aksies en sporadiese geweldpleging. President F W de Klerk hef op 7 Junie 1990 die 4-jaar oue noodtoestand op, behalwe in Natal waar bloedige botsings tussen Inkatha en die UDF/ANC voorkom.

Onluste in ander lande

Elders in die wêreld was daar, soos reeds aangedui, ook oproer en onluste. In Miami in die staat Florida, VSA vind in 1980 van die ergste rasse-onluste sedert die sestigerjare plaas. Teen die einde van die dekade kom Los Angeles ook aan die beurt.
Gedurende Mei 1980 kom duisende mense in die Suid-Koreaanse stad Gwangju in opstand teen die die ondemokraties bewind van Chun Doo-hwan. Na raming het sowat 240 mense gesterf toe die weermag die orde herstel het.
In 1981 lyk die Londense voorstad Brixton soos ’n slagveld. Grootskaalse rasse-onluste breek hier uit nadat die plaaslike polisie swart jeugdiges op straat begin deursoek het in ’n ant-misdaad veldtog. Meer as 300 mense is beseer terwyl skade aan eiendom sowat £7.5m beloop het. Soortgelyke onluste versprei gou na ander Britse stede. In 1985 word hierdie onluste herhaal. ’n Ander verskynsel wat in die tagtigerjare ’n ernstige probleem vir die Britse regering raak is die bloedige botsings en onluste by sokkerwedstryde.
In Toronto, Kanada voer die polisie in 1981 ’n reeks klopjagte uit op openbare badhuise wat deur gay mans besoek word. In een klopjag word 286 mans gearresteer. Dit ontketen protesoptogte en onluste deur sowat 3,000 mense in Toronto se middestad wat motors aan die brand steek, vensters stukkend slaan en met die polisie bots.
Na die sluipmoord op Indië se premier, Indira Gandhi, deur haar Sikh-lyfwagte, breek grootskaalse onluste uit in Indië in 1984. Skares mense maak oral jag op Sikhs en na raming is meer as 8,000 mense vermoor.

Ander noemenswaardige onrus-voorvalle sluit in die 1986 Sabah-onluste in Maleisië wat na ’n verkiesing uitbreek; die sogenaamde “Slag van Ryesgade” in Kopenhagen in Denemarke toe onwettige plakkers met die polisie bots; die Atlanta en Oakdale tronk-onluste in die VSA in 1987; die Nanjing onluste in 1988 in China wat gemik was teen student uit Afrika; en die 1989 “kos onluste” in Argentinië. In 1989 volg ook die reuse pro-demokrasie saamtrek by Tiananmen-plein in Beijing wat gewelddadig deur die polisie en weermag opgebreek word. En so kom ’n dekade propvol protes en onluste tot sy einde.

No comments:

ARTICLES ARCHIVE - Here you can find and read more of my published articles...