Articles...
Examples of recent article...
To read the full article or for more examples of articles go to the Article Archive at the bottom.
Examples of recent article...
To read the full article or for more examples of articles go to the Article Archive at the bottom.
Twee dekades van
opspraakwekkende moorde
(Published in Afrikaans magazine De Kat July/August 2014 )
Stef Terblanche
Kameras flits met die aankoms van die konvooi motors.
Die skare beur vorentoe om die moord-beskuldigde te sien as hy die stampvol hof
onder polisie begeleiding binnestap. Plaaslike en buitelandse joernaliste maak
koorsagtig aantekeninge.
Dié toneel speel hom nie af by
Oscar Pistorius se moordverhoor nie. Ook nie by dié van Shrien Dewani of die
jeugdige Griekwastadse gesinsmoordenaar nie.
Nee, die jaar is 1961, die
plek die Kaapstadse Hooggeregshof, en die nuuskieriges is daar vir die verhoor
van die 23-jarige Marthinus Rossouw. Hy word daarvan beskuldig dat hy teen
betaling die aantreklike en flambojante 36-jarige baron Dieter Joachim Gunther
von Schauroth met twee koeëls deur die nek vermoor het.
Al is die gemiddeld 5,000
moorde per jaar in Suid-Afrika tussen 1960 en 1980 aansienlik minder as die
huidige sowat 16,000 moorde per jaar was dit tog ’n era van buitengewoon baie
opspraakwekkende moordsake.
So het Suid-Afrikaners in die
sewentigerjare daagliks hul koerante verslind om die skokkende onthullings in
die berugte skêrmoord-verhoor in Kaapstad te volg.
Die pragtige rooikop Marlene
Lehnberg het as 16-jarige by haar eerste werk in die ortopediese afdeling van
die Rooikruis Kinderhospitaal verlief geraak op Christiaan van der Linde, byna
dertig jaar haar senior. Komende uit ’n liefdelose en streng ouerhuis het sy
aangetrokke gevoel tot hierdie sjarmante vaderfiguur, al was hy getroud. Oor
die volgende twee jaar het hul verhouding vinnig gegroei.
Toe Van der Linde nie sy vrou
Susanna vir haar wou los nie, het Lehnberg die 33-jarige werklose kreupel,
Marthinus Choegoe, om hulp genader. Met beloftes van geld, drank en seks het sy
Choegoe oortuig om haar om die lewe te bring.
Na verskeie mislukte pogings –
waartydens Choegoe selfs eenkeer deur sy slagoffer buite haar huis gewaar en
deur die polisie verwyder is - het Lehnberg uit haar werk bedank, haar motor
gepak en vir Choegoe die oggend van 4 November 1974 by sy huis gaan haal. Saam
het hulle Susanna van der Linde in haar huis in Boston, Bellville verras en
haar gewurg, geslaan en met ’n skêr doodgesteek. Lehnberg het na Johannesburg
verkas maar is kort voor lank deur die polisie aangekeer en het ’n bekentenis
gedoen.
In die daaropvolgende verhoor het
honderde mense daagliks gestoei om ’n sitplek in die stampvol hof te bekom. In
Maart 1975 word beide die doodstraf opgelê, maar die appèlhof is hulle genadig.
Na elf jaar in die tronk is albei in 1986 vrygelaat. Om naby sy vermoorde vrou
se graf te wees, het Christiaan van der Linde na Krugersdorp verhuis waar hy in
1983 eensaam en alleen oorlede is.
Nog ’n vrou wat destyds vir
verbode liefde gemoor het, was die 34-jarige Sonjia Swanepoel. In 1971 het sy
en haar minnaar, Frans Vontsteen, haar man, die Springbok-atleet en polisieman
Cois Swanepoel, met sy eie diensrewolwer doodgeskiet het. Hul “volmaakte moord”
– met ’n skyninbraak, die vooraf verspreiding van vals inligting, waterdigte
alibi’s en oortuigende toneelspel – het gou uitgerafel en hulle is aangekeer.
Sonjia het 15 jaar tronkstraf gekry en Vontsteen moes hang.
Net soos in die veelbesproke selfbeplande,
bygestaande moord van die korrupte mynmagnaat Brett Kebble in 2005, het beide baron
Von Schauroth in 1961 en Albert Jackson in 1967 hul eie moorde gereël. In albei
gevalle is groot lewenspolisse uitgeneem met hul weduwees as die begunstigdes.
Die verhoor van Rossouw, die
baron se “vriend” en “lyfwag”, het destyds gesorg vir ’n internasionale
mediasirkus en ’n daaglikse volgepakte hofsaal. Vir die eerste keer moes ’n hof
besluit of ’n bygestaande selfmoord wel moord is. Die legendariese Regter
Andrew Beyers het beslis dit is moord sonder versagtende omstandighede al het die
oorledene dit self bestel. Rossouw is op 20 Junie 1962 tereggestel, 13 dae
voordat hy sy vooruitgedateerde tjek van R2,300 – betaling van die baron vir
die moord - kon wissel. Heelwat raaisels is nooit opgeklaar nie, soos die klomp
diamante wat by die baron se lyk langs die Malmesbury-pad buite Kaapstad gevind
is.
In Jackson se geval ses jaar
later het die appèlhof wel bevind dat Jackson se wens om te sterf as versagting
kon dien. Die doodsvonnisse van sy vrou
en twee handlangers is na tronkstraf verander.
Dan was daar ook heelwat “politieke
moorde” wat wêreldwyd groot aandag getrek het. In die vroeë sestigerjare het
Poqo se terreurbestaan en vlaag moorde, en John Harris se stasiebom in
Johannesburg, opslae gemaak.
Die mees opspraakwekkende was
egter die moord in 1966 op Suid-Afrika se eerste minister, Dr. Hendrik
Verwoerd, toe hy in die Parlement in Kaapstad deur ’n bode met ’n mes doodgesteek
is. Sy moordenaar, Demitrio Tsafendas, is onbevoeg verklaar om verhoor te word
en sterf jare later in die ouderdom van 81 in die Sterkfontein psigiatriese
hospitaal.
Elf jaar na Verwoerd sterf ook
die swartbewussyns-leier Steve Biko na erge aanranding en marteling in
polisie-aanhouding. In 1999 verwerp die Waarheidskommissie die vyf betrokke
polisiemanne se aansoek om amnestie vir die moord, maar omdat die misdaad reeds
verjaar het, kan hulle nie vervolg word nie.
Of die dubbele moord op Dr.
Robert Smit en sy vrou, Jean- Cora, in 1977 op Springs aan die Oos-Rand ’n
politieke moord was, sal ons dalk nooit weet nie. Dit was wel een van die
raaiselagtigste moorde.
Smit, ’n briljante ekonoom, was
die destydse Nasionale Party se nuwe “goue seun” en parlementêre kandidaat vir
Springs in die 1977 verkiesing. Hy was voorheen werksaam by die Internasionale
Monetêre Fonds en by Santam Internasionaal, ’n frontorganisasie vir
valutatransaksies vir Suid-Afrika se destydse geheime wapenaankope. Daar is
destyds bespiegel of hy “te veel geweet het” of dalk iets wou oopvlek. Hy en sy
vrou word in hul huis, waar Smit ’n geheimsinnige “Mnr. MacDougall” moes
ontmoet, doodgeskiet. Die moordenaar/s verf die letters “RAU TEM” op ’n muur.
Ondanks ’n omvattende, jare-lange speurondersoek bly die moord onopgelos.
In 1975 word die
Johannesburgse bendeleier Denis Holmes in ’n bende-skietgeveg verlam. Die
daaropvolgende jaar word wraak geneem. Na ’n nag van seks en dwelms, vermoor
Holmes, Budwa Thomas en Xavier Tanse Leisher eers twee prostitute, Debbie
Relling (21) en Irma Keulder (24) en daarna die “opium koning” Johnny Karam. Na hul arrestasie word Holmes
staatsgetuie, Thomas kry nege jaar en
Leisher die doodstraf. Na drie jaar in die dodesel word Leisher begenadig en
bring nog agt jaar in die gevangenis
deur.
Waarskynlik een van die mees
ontroerende moorde van daardie era was dié op twee laerskoolmaatjies, Kosie
Breedt en Johan Lubbe wat in April 1978 verdwyn het terwyl hulle in Hillbrow
geld vir hul skool ingesamel het. Na ’n soektog van tien dae is die twee se
verlepte en verminkte lykies tussen kosmosblomme by ’n spruit in die voorstad
Windsorpark gekry. Hul moordenaar is nooit gevang nie.
No comments:
Post a Comment