’n Nuwe era van terreur

(Published in De Kat Sept / Oct 2014 )


Deur Stef Terblanche

Tydens die Sewentigerjare word die wêreld ongemaklik al meer bewus van die toename in ’n “nuwe” monster-verskynsel – terreuraanvalle.

Alhoewel terreur eintlik so oud soos die mensdom is, sorg die oënskynlik snel-stygende lys aanvalle sedert die 1960’s en 70’s, die gebruik van al meer sensasionele metodes deur terroriste, en moderne kommunikasietegnologie dat mense oral hierdie gruwel nou byna daagliks in hul eie voorkamer ervaar.

Daar word steeds gestry oor ’n gepaste definisie van terreur, veral weens die politieke en emosionele inhoud daarvan en die vele grys areas daarby betrokke.

Anneli Botha, ’n senior navorser en terreur spesialis by die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria meen die “emosie” moet uit sodanige definisies gehaal word deur die daad van terreur eerder as die beweegrede of pleger daarvan te definieer.

Haar instituut gebruik die 1999 definisie van die destydse Organisasie vir Afrika-Eenheid (voorloper van die AU) asook die meer onlangse definisie soos bewoord deur die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), Kofi Annan. ’n Kernverskil tussen die twee is dat die OAE/AU dade wat deel is van ’n bevrydingstryd uitsluit, terwyl die Annan-definisie alle dade van terreur insluit ongeag die motiverende oorsake of griewe.

Een van die eerste aangetekende voorbeelde van terrorisme was die bedrywighede van die Joodse Sicarii ekstremiste teen Romeinse heerskappy in Judéa Provinsie vroeg in die eerste eeu na Christus. In 1793, tydens die skrikbewind van die Jakobyne in Frankryk, word die woord “terrorisme” die eerste keer deel van die Westerse woordeskat.

Sedert die 1970’s het daar heelwat verskuiwings plaasgevind ten opsigte van geografiese teikengebiede vir terreuraanvalle, asook die oorsake, motiewe, aard en metodes wat hierdie aanvalle gekenmerk het. Vanaf die laat 1960’s tot the tagtigerjare het die aanvalle van die Ierse Republikeinse Leer (IRL) in Brittanje en Noord-Ierland byvoorbeeld die nuus oorheers. Daarna skuif die fokus na die Midde-Ooste en Europa, asook na Colombië  in Suid-Amerika.

Van die middel-1990’s slaan terroriste ook toenemend toe in Rusland, Spanje, Turkye en selfs in Suid-Afrika waar beide die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) en PAGAD aanvalle doen. Teen 2000 is dit veral lande in Asië wat deurloop en ná 9/11 in 2001 is die Midde-Ooste byna letterlik aan die brand.
Metodes van terreur wissel ook oor die jare van vliegtuigkapings tot ontvoerings van hooggeplaastes, besettings van ambassades, motorbomaanvalle en selfs die Mexikaanse dwelmkartels wat opgekapte lyke as waarskuwing in openbare plekke laat.

Botha beskou die 9/11 aanvalle in New York en Washington as die mees suksesvolle terreur-aanval nog ten spyte van die taamlik kru metodes wat gebruik is.

Sy glo dat die sogenaamde “Oorlog teen Terreur” wat na 9/11 deur Amerika en Brittanje met ondersteuning van hul bondgenote geloods is die situasie eerder versleg as  verbeter het.

Tans is die fokus veral op sub-Sahara Afrika waar aanvalle deur ekstremistiese Islamitiese groepe skerp toegeneem het. Maar, sê  Botha, beskikbare statistiek vertel nie die volle verhaal nie omdat baie terreurdade voor 2000 nie aangeteken is nie, veral in Noord-Afrika.

Sommige van die mees opspraakwekkende terreur-aanvalle die afgelope vier dekades volg:

1970’s

·     Bomontploffings aan boord burgerlike vliegtuie is skynbaar ’n gunsteling metode. Só dood ’n Palestynse bom  47 mense in 1970 naby Zürich aan boord ’n Swissair vlug; 82 sterf in Mei 1973 op ’n Russiese vliegtuig; in Desember 1973 sterf 30 passasiers op PanAm vlug 110; in 1974 dood Abu Nidal se Fata-beweging 88 mense op ’n Amerikaanse TWA vlug; en in 1976 sterf 73 mense in ’n bomontploffing op ’n Kubaanse vliegtuig. Vermeende terroriste skiet in 1972 ’n Joegoe-Slawiese vliegtuig af en 27 mense sterf, maar ’n lugwaardin oorleef wonderbaarlik die val van meer as 10,000 meter.

·    Talle diplomate en regeringsleiers word ook geteiken. Die IRL vermoor Richard Sykes, die Britse ambassadeur in Nederland; in Italië ontvoer die Rooi Brigades Eerste Minister Aldo Moro en vermoor hom later; in Beiroet vermoor Palestynse terroriste Amerika se ambassadeur, Francis E. Meloy en een van sy senior amptenare; en in Spanje vermoor die Baskiese ETA groep die eerste minister, Admiraal Luis Carrero Blanco.

·     Te midde van die talle toenemende aanvalle deur Palestynse militante groepe op Israelse teikens is die wêreld erg geskok  toe 11 Israelse Olimpiese atlete in Duitsland ontvoer en vermoor word deur die Swart September-beweging.

·    In een van die opspraakwekkendste van die vele aanvalle deur die IRL op Britse teikens in hierdie dekade word die plesierboot van Lord Mountbatton in 1979 opgeblaas. Dié oorlogsheld, oom van Prins Phillip en kleinneef van die koning en verskeie familielede sterf.

·    In die “Beleg van Foxstraat” in 1975 in Johannesburg word 4 mense gedood en 82 beseer toe David Protter ’n groot aantal gyselaars aanhou in die Israelse konsulaat waar hy as  veiligheidswag werk. Hy gee homself later oor aan die polisie.

1980’s

·       In die tagtigerjare saai die M-19 guerrillas en ander militante groepe dood en verwoesting in Colombië. Hul terreurdade word egter gou oorskadu deur dié van die dwelmkoning Pablo Escobar en sy Medellin kartel wat “totale en absolute oorlog” teen die Colombiaanse regering verklaar.

·     IRL bedrywighede neem toe. ’n Bomaanval gemik teen Brittanje se Koningin Elizabeth II  in die Skotse Shetland-eilande misluk, maar kort hierna in 1982 word 11 lede van die koningin se berede lyfwag helder oordag in Londen opgeblaas. Nadat die stof gaan lê het, is die pad bestrooi met beseerde en dooie soldate en perde. 

·     In 1982 verwerf die Venezuelaanse huurterroris van die Palestynse PFLP, Carlos die Jakkals, al meer berugtheid, veral met ’n dodelike bomaanval op  ’n trein tussen Parys en Toulouse.

·     Selfmoord-motorbom aanvalle eis onder meer die lewens van 75 Israelse soldate en Lebanese gevangenes in die Israelse leërhoofkwartier in Suid-Libanon, en van 241 Amerikaanse vlootsoldate en 58 Franse soldate in twee aanvalle op militêre basisse in Beiroet. In 1985 blaas die wêreld se eerste vroulike selfmoord-aanvaller, ’n 17-jarige Palestynse meisie, haarself en twee Israelse soldate op.

·     Suid-Afrika beleef ’n vlaag aanvalle deur die ANC, onder meer die opspraakwekkende  motorbom-ontploffing in spitstyd in Kerkstraat, Pretoria in Mei 1983 waarin 19 mense sterf en meer as 200 beseer word, en die berugte motorbom-aanval op Magoo’s Kroeg en die Why Not Restaurant in Durban.

·    Meer hooggeplaastes word vermoor, onder hulle die Indiese Eerste Minister Indira Gandhi, Aartsbiskop Óscar Romero in El Salvador; die geloofsleier  Ayatollah Mohammad Beheshti, President Mohammad Ali Rajai en Eerste Minister Mohammad Javad Bahonar in Iran; die Egiptiese President Anwar Sadat; die Lebanese President Bashir Gemayel; die liberale leier Pablo Pelaez Gonzalez en die Goewerneur van Antioquia, Antonio Roldan Betancur, in Colombië; en die Sweedse Eerste Minister Olof Palme.

1990’s

·      In 1993 word die Wêreld-Handelsentrum in New York die eerste keer deur terroriste geteiken met ’n kragtige bom van 600kg plofstof wat veronderstel was om een van die twee toringgeboue te verwoes en duisende te laat sterf. Die gebou bly staan en slegs 6 mense sterf terwyl meer as ’n duisend beseer word. ’n Koalisie van 5 Islamitiese terreurgroepe is verantwoordelik. Minder as ’n dekade later word die sentrum in die 9/11 aanvalle vernietig.

·      Terreuraanvalle neem toe in Indië, uitgevoer deur militante-groepe in Kashmir, Sikh separatiste, Tamil terroriste van Sri Lanka en verskillende militante Islamitiese groepe. In een aanval sterf die voormalige premier Rajiv Gandhi.

·         Terreur neem ook toe in en tussen die voormalige republieke van die Sowjet-Unie. In Rusland word 3,000 mense in ’n hospitaal as gyselaars aangehou deur 350 Tsjetsjeense militante – in die bevrydings poging sterf 65 mense.

·        In Suid-Afrika word 31 AWB-lede gearresteer in verband met twee kragtige bomontploffings in Germiston en Johannesburg waarin19 mense sterf en tientalle beseer is enkele dae voor die 1994 verkiesing. En in Tanzanië en Kenia ontplof al-Kaïda bomme by die VSA se ambassades en sterf 225 mense terwyl sowat 4,000 beseer word.


Sedert 2000

·      Sedert 2000 eskaleer terreuraanvalle wêreldwyd kwaai. Die fokus verskuif aanvanklik na Asië, maar Spanje, Israel, Turkye en Suid-Afrika loop ook deur. Later neem aanvalle ook toe in die Midde-Ooste en sub-Sahara Afrika.

·      Op 11 September 2001 word die wêreld geskud deur die driedubbele aanvalle in die VSA waarin altesame 2,996 mense sterf nadat al-Kaïda terroriste vliegtuie gekaap en twee in die Wêreld-Handelsentrum se twee toringgeboue in New York laat vasvlieg het en een in die Pentagon in Washington. Nog Al Kaïda aanvalle vind in 2004 en 2005 in Madrid en Londen plaas.

·    Sedert 2001 het aanvalle deur ekstremistiese Islamitiese groepe wat bande het met Al Kaïda veral in Afrika toegeneem, onder meer die 2010 aanvalle op sokker liefhebbers in Uganda,  die besetting in September 2013 van ’n winkelsentrum in Nairobi, Kenia deur al-Shabaab terroriste waarin 67 mense vermoor is en die onlangse ontvoering van 300 skoolmeisies deur Boko Haram in Nigerië.











No comments:

ARTICLES ARCHIVE - Here you can find and read more of my published articles...