Hillbrow, “internasionale” plesier-eiland van die 70s

Articles...

Examples of recent article...
To read the full article or for more examples  of articles go to the Article Archive at the bottom.
Hillbrow, “internasionale” plesier-eiland van die 70s

(Published in Afrikaans magazine De Kat July/August 2014 )

Stef Terblanche

Televisie was nog nie in Suid-Afrika nie. Apartheidswette maak ’n gekuier oor die kleurgrens onwettig. Strenge staatsensuur verhinder dat baie “ongewenste” boeke, films en musiek die land binnekom. Sanksies en boikotte isoleer Suid-Afrika. Sondae is vir rus en alles behalwe die kerke is toe.
Tog het mense hulle nie hierdeur laat onderkry nie en is hierdie kulturele en maatskaplike beperkinge in die 1970s op allerlei innoverende maniere oorkom. Onder hierdie Sowjet-agtige puriteinse kombers van orde en beheer het dit plek-plek gewoel en gelewe, veral in die eilande van kosmopolitaanse “internasionalisme” soos Hillbrow in Johannesburg en in ‘n mindere mate in Kaapstad se Seepunt, Sunnyside in Pretoria en die Durbanse strandgebied.
Maar dit was veral in die betonoerwoud van Hillbrow waar kleure, geure en gebeure van oor die hele wêreld in ’n dolle internasionale mengelmoes van plesier en ontvlugting bymekaargekom het. In hierdie “Europa van Afrika” kon mens die beperkende apartheidstof afskud en jou verbeel jy is in Londen, Parys, Berlyn, New York of Rome. Veral in een van die talle café’s wat toe daar gefloreer het. 
In hierdie deftige  sitkamer-lokale met name soos Café Wien, Café De Paris, Florian Café en Café Zürich kon mens vir ure lank sterk Italiaanse koffie drink of Duitse swartwoudkoek eet, een van talle buitelandse koerante lees, of ’n skaak- of backgammon-bord nader trek. En rondom mens het dit gedreun van die gesprekke in ’n Babelse verwarring van tale. Sondagoggende was dié plekke ook gewild vir hul stewige ontbyt bedienings, veral Café Wien se balkon met sy sambrele.
Snags is daar gedans, gedrink en gekuier in legendariese plekke soos die Chelsea Hotel, die Ambassador, die Summit Club, Club 505, die Bella Napoli, die Goblet, Skyline, Deutsche Keller, die Clarendon en natuurlik Cloud 9 heel bo in die Hillbrow-toring. Party van die klubs en diskoteke het “internasionale” status gehad en kon dus wettiglik mense van alle rasse akkommodeer. Andere het maar eenvoudig die wet verbreek.
’n Web van apartheidswette het dit grotendeels onmoontlik gemaak vir mense om oor die kleurgrens te kuier en ontspan. Buiten die hotelle met “internasionale” status was daar enkele ander skuiwergate. Byvoorbeeld, in nywerheids-gebiede wat hierdie rasse-beperkings vrygespring het, het veelrassige diskoteke en jazz-klubs met Amerikaanse temas en name soos The New Yorker verrys. In party kon mens jou verbeel dat Al Capone of Lucky Luciano enige oomblik daar kon instap! Maar in werklikheid was dit die glansmense van Soweto, die kosmopoliete van Hillbrow, die plesiersoekers uit die voorstede en buitelandse besoekers wat tot in die vroeë oggendure daar gedans het sonder vrees dat die polisie se ontug-eenheid enige oomblik sou toeslaan en hul pret bederf.
Nodeloos om te noem, Hillbrow het ook gewemel van die eetplekke, van deftige restaurante tot kitskos-stalletjies met spyskaarte van oral in die wêreld. So was daar onder meer die Joodse Hatikvah Deli, die Duitse Wurstbude, die Amerikaanse-styl Milky Lane, die Joodse Mi Vami en die eg-Suid-Afrikaanse Grammadoelas. Na ’n nag van jolyt kon mens ook in die vroeë oggendure in die hartjie van Hillbrow by Dunk-a-Doughnut gaan draai of hoenderpastei gaan eet by die oorspronklike Fontana, Suid-Afrika se eerste 24/7 supermark.
Vermaak van ’n meer  kulturele aard was ook volop. Vir die meer ernstige soort was daar die Markteater ’n entjie weg in Newtown. Buiten vir baanbrekers- en politieke verset-teater was die Mark nóg een van die min veelrassige kuierplekke in die laat 70s. Laatnag kon mens in die Café Wien Europese flieks gaan kyk. By die Mini Cine is dikwels verbode films gewys, sommige met ’n taamlik blouerige skynsel. By Club Nouveau is kunsflieks gewys terwyl die Summit Club ook Sondagaande films aangebied het.

Of mens kon sommer net rustig op ’n Sondag by Estoril vir boeke en by Hillbrow Records vir plate gaan rondsnuffel wat nêrens anders in Suid-Afrika beskikbaar was nie, veral nie op Sondae nie.

No comments:

ARTICLES ARCHIVE - Here you can find and read more of my published articles...