(Afrikaans article published in De Kat July/August 2014 edition)


Twee dekades van opspraakwekkende moorde

Stef Terblanche

Kameras flits met die aankoms van die konvooi motors. Die skare beur vorentoe om die moord-beskuldigde te sien as hy die stampvol hof onder polisie begeleiding binnestap. Plaaslike en buitelandse joernaliste maak koorsagtig aantekeninge.
Dié toneel speel hom nie af by Oscar Pistorius se moordverhoor nie. Ook nie by dié van Shrien Dewani of die jeugdige Griekwastadse gesinsmoordenaar nie.
Nee, die jaar is 1961, die plek die Kaapstadse Hooggeregshof, en die nuuskieriges is daar vir die verhoor van die 23-jarige Marthinus Rossouw. Hy word daarvan beskuldig dat hy teen betaling die aantreklike en flambojante 36-jarige baron Dieter Joachim Gunther von Schauroth met twee koeëls deur die nek vermoor het.
Al is die gemiddeld 5,000 moorde per jaar in Suid-Afrika tussen 1960 en 1980 aansienlik minder as die huidige sowat 16,000 moorde per jaar was dit tog ’n era van buitengewoon baie opspraakwekkende moordsake.
So het Suid-Afrikaners in die sewentigerjare daagliks hul koerante verslind om die skokkende onthullings in die berugte skêrmoord-verhoor in Kaapstad te volg.
Die pragtige rooikop Marlene Lehnberg het as 16-jarige by haar eerste werk in die ortopediese afdeling van die Rooikruis Kinderhospitaal verlief geraak op Christiaan van der Linde, byna dertig jaar haar senior. Komende uit ’n liefdelose en streng ouerhuis het sy aangetrokke gevoel tot hierdie sjarmante vaderfiguur, al was hy getroud. Oor die volgende twee jaar het hul verhouding vinnig gegroei.
Toe Van der Linde nie sy vrou Susanna vir haar wou los nie, het Lehnberg die 33-jarige werklose kreupel, Marthinus Choegoe, om hulp genader. Met beloftes van geld, drank en seks het sy Choegoe oortuig om haar om die lewe te bring.
Na verskeie mislukte pogings – waartydens Choegoe selfs eenkeer deur sy slagoffer buite haar huis gewaar en deur die polisie verwyder is - het Lehnberg uit haar werk bedank, haar motor gepak en vir Choegoe die oggend van 4 November 1974 by sy huis gaan haal. Saam het hulle Susanna van der Linde in haar huis in Boston, Bellville verras en haar gewurg, geslaan en met ’n skêr doodgesteek. Lehnberg het na Johannesburg verkas maar is kort voor lank deur die polisie aangekeer en het ’n bekentenis gedoen.
In die daaropvolgende verhoor het honderde mense daagliks gestoei om ’n sitplek in die stampvol hof te bekom. In Maart 1975 word beide die doodstraf opgelê, maar die appèlhof is hulle genadig. Na elf jaar in die tronk is albei in 1986 vrygelaat. Om naby sy vermoorde vrou se graf te wees, het Christiaan van der Linde na Krugersdorp verhuis waar hy in 1983 eensaam en alleen oorlede is.
Nog ’n vrou wat destyds vir verbode liefde gemoor het, was die 34-jarige Sonjia Swanepoel. In 1971 het sy en haar minnaar, Frans Vontsteen, haar man, die Springbok-atleet en polisieman Cois Swanepoel, met sy eie diensrewolwer doodgeskiet het. Hul “volmaakte moord” – met ’n skyninbraak, die vooraf verspreiding van vals inligting, waterdigte alibi’s en oortuigende toneelspel – het gou uitgerafel en hulle is aangekeer. Sonjia het 15 jaar tronkstraf gekry en Vontsteen moes hang.
Net soos in die veelbesproke selfbeplande, bygestaande moord van die korrupte mynmagnaat Brett Kebble in 2005, het beide baron Von Schauroth in 1961 en Albert Jackson in 1967 hul eie moorde gereël. In albei gevalle is groot lewenspolisse uitgeneem met hul weduwees as die begunstigdes.
Die verhoor van Rossouw, die baron se “vriend” en “lyfwag”, het destyds gesorg vir ’n internasionale mediasirkus en ’n daaglikse volgepakte hofsaal. Vir die eerste keer moes ’n hof besluit of ’n bygestaande selfmoord wel moord is. Die legendariese Regter Andrew Beyers het beslis dit is moord sonder versagtende omstandighede al het die oorledene dit self bestel. Rossouw is op 20 Junie 1962 tereggestel, 13 dae voordat hy sy vooruitgedateerde tjek van R2,300 – betaling van die baron vir die moord - kon wissel. Heelwat raaisels is nooit opgeklaar nie, soos die klomp diamante wat by die baron se lyk langs die Malmesbury-pad buite Kaapstad gevind is.
In Jackson se geval ses jaar later het die appèlhof wel bevind dat Jackson se wens om te sterf as versagting kon dien. Die  doodsvonnisse van sy vrou en twee handlangers is na tronkstraf verander.
Dan was daar ook heelwat “politieke moorde” wat wêreldwyd groot aandag getrek het. In die vroeë sestigerjare het Poqo se terreurbestaan en vlaag moorde, en John Harris se stasiebom in Johannesburg, opslae gemaak.
Die mees opspraakwekkende was egter die moord in 1966 op Suid-Afrika se eerste minister, Dr. Hendrik Verwoerd, toe hy in die Parlement in Kaapstad deur ’n bode met ’n mes doodgesteek is. Sy moordenaar, Demitrio Tsafendas, is onbevoeg verklaar om verhoor te word en sterf jare later in die ouderdom van 81 in die Sterkfontein psigiatriese hospitaal. 
Elf jaar na Verwoerd sterf ook die swartbewussyns-leier Steve Biko na erge aanranding en marteling in polisie-aanhouding. In 1999 verwerp die Waarheidskommissie die vyf betrokke polisiemanne se aansoek om amnestie vir die moord, maar omdat die misdaad reeds verjaar het, kan hulle nie vervolg word nie.
Of die dubbele moord op Dr. Robert Smit en sy vrou, Jean- Cora, in 1977 op Springs aan die Oos-Rand ’n politieke moord was, sal ons dalk nooit weet nie. Dit was wel een van die raaiselagtigste moorde.
Smit, ’n briljante ekonoom, was die destydse Nasionale Party se nuwe “goue seun” en parlementêre kandidaat vir Springs in die 1977 verkiesing. Hy was voorheen werksaam by die Internasionale Monetêre Fonds en by Santam Internasionaal, ’n frontorganisasie vir valutatransaksies vir Suid-Afrika se destydse geheime wapenaankope. Daar is destyds bespiegel of hy “te veel geweet het” of dalk iets wou oopvlek. Hy en sy vrou word in hul huis, waar Smit ’n geheimsinnige “Mnr. MacDougall” moes ontmoet, doodgeskiet. Die moordenaar/s verf die letters “RAU TEM” op ’n muur. Ondanks ’n omvattende, jare-lange speurondersoek bly die moord onopgelos.
In 1975 word die Johannesburgse bendeleier Denis Holmes in ’n bende-skietgeveg verlam. Die daaropvolgende jaar word wraak geneem. Na ’n nag van seks en dwelms, vermoor Holmes, Budwa Thomas en Xavier Tanse Leisher eers twee prostitute, Debbie Relling (21) en Irma Keulder (24) en daarna die “opium koning”  Johnny Karam. Na hul arrestasie word Holmes staatsgetuie,  Thomas kry nege jaar en Leisher die doodstraf. Na drie jaar in die dodesel word Leisher begenadig en bring nog agt jaar in  die gevangenis deur.

Waarskynlik een van die mees ontroerende moorde van daardie era was dié op twee laerskoolmaatjies, Kosie Breedt en Johan Lubbe wat in April 1978 verdwyn het terwyl hulle in Hillbrow geld vir hul skool ingesamel het. Na ’n soektog van tien dae is die twee se verlepte en verminkte lykies tussen kosmosblomme by ’n spruit in die voorstad Windsorpark gekry. Hul moordenaar is nooit gevang nie.

1 comment:

Unknown said...

Stef Terblanche, hierdie saak is blykbaar nou op gelos. Kosie Breedt se broer, Chris Breedt het dit hierdie week bekend gemaak. Verdagte is in vroeee 2000's oorlede. Lt Kol Mike Van Aardt van Hoofkantoor Speurders was na 40jr die ondersoek in die saak oorsien en die saak is op gelos.