(Afrikaans article published in De Kat July/August 2014 edition)
Twee
dekades van opspraakwekkende moorde
Stef Terblanche
Kameras flits met die aankoms van die konvooi
motors. Die skare beur vorentoe om die moord-beskuldigde te sien as hy die stampvol
hof onder polisie begeleiding binnestap. Plaaslike en buitelandse joernaliste
maak koorsagtig aantekeninge.
Dié toneel speel hom nie af by Oscar
Pistorius se moordverhoor nie. Ook nie by dié van Shrien Dewani of die jeugdige
Griekwastadse gesinsmoordenaar nie.
Nee, die jaar is 1961, die plek die
Kaapstadse Hooggeregshof, en die nuuskieriges is daar vir die verhoor van die 23-jarige
Marthinus Rossouw. Hy word daarvan beskuldig dat hy teen betaling die
aantreklike en flambojante 36-jarige baron Dieter Joachim Gunther von Schauroth
met twee koeëls deur die nek vermoor het.
Al is die gemiddeld 5,000 moorde per
jaar in Suid-Afrika tussen 1960 en 1980 aansienlik minder as die huidige sowat
16,000 moorde per jaar was dit tog ’n era van buitengewoon baie
opspraakwekkende moordsake.
So het Suid-Afrikaners in die sewentigerjare
daagliks hul koerante verslind om die skokkende onthullings in die berugte
skêrmoord-verhoor in Kaapstad te volg.
Die pragtige rooikop Marlene
Lehnberg het as 16-jarige by haar eerste werk in die ortopediese afdeling van
die Rooikruis Kinderhospitaal verlief geraak op Christiaan van der Linde, byna
dertig jaar haar senior. Komende uit ’n liefdelose en streng ouerhuis het sy
aangetrokke gevoel tot hierdie sjarmante vaderfiguur, al was hy getroud. Oor
die volgende twee jaar het hul verhouding vinnig gegroei.
Toe Van der Linde nie sy vrou
Susanna vir haar wou los nie, het Lehnberg die 33-jarige werklose kreupel,
Marthinus Choegoe, om hulp genader. Met beloftes van geld, drank en seks het sy
Choegoe oortuig om haar om die lewe te bring.
Na verskeie mislukte pogings –
waartydens Choegoe selfs eenkeer deur sy slagoffer buite haar huis gewaar en
deur die polisie verwyder is - het Lehnberg uit haar werk bedank, haar motor
gepak en vir Choegoe die oggend van 4 November 1974 by sy huis gaan haal. Saam
het hulle Susanna van der Linde in haar huis in Boston, Bellville verras en
haar gewurg, geslaan en met ’n skêr doodgesteek. Lehnberg het na Johannesburg
verkas maar is kort voor lank deur die polisie aangekeer en het ’n bekentenis
gedoen.
In die daaropvolgende verhoor het
honderde mense daagliks gestoei om ’n sitplek in die stampvol hof te bekom. In
Maart 1975 word beide die doodstraf opgelê, maar die appèlhof is hulle genadig.
Na elf jaar in die tronk is albei in 1986 vrygelaat. Om naby sy vermoorde vrou
se graf te wees, het Christiaan van der Linde na Krugersdorp verhuis waar hy in
1983 eensaam en alleen oorlede is.
Nog ’n vrou wat destyds vir verbode
liefde gemoor het, was die 34-jarige Sonjia Swanepoel. In 1971 het sy en haar
minnaar, Frans Vontsteen, haar man, die Springbok-atleet en polisieman Cois
Swanepoel, met sy eie diensrewolwer doodgeskiet het. Hul “volmaakte moord” –
met ’n skyninbraak, die vooraf verspreiding van vals inligting, waterdigte
alibi’s en oortuigende toneelspel – het gou uitgerafel en hulle is aangekeer.
Sonjia het 15 jaar tronkstraf gekry en Vontsteen moes hang.
Net soos in die veelbesproke selfbeplande,
bygestaande moord van die korrupte mynmagnaat Brett Kebble in 2005, het beide baron
Von Schauroth in 1961 en Albert Jackson in 1967 hul eie moorde gereël. In albei
gevalle is groot lewenspolisse uitgeneem met hul weduwees as die begunstigdes.
Die verhoor van Rossouw, die baron
se “vriend” en “lyfwag”, het destyds gesorg vir ’n internasionale mediasirkus
en ’n daaglikse volgepakte hofsaal. Vir die eerste keer moes ’n hof besluit of
’n bygestaande selfmoord wel moord is. Die legendariese Regter Andrew Beyers
het beslis dit is moord sonder versagtende omstandighede al het die oorledene
dit self bestel. Rossouw is op 20 Junie 1962 tereggestel, 13 dae voordat hy sy
vooruitgedateerde tjek van R2,300 – betaling van die baron vir die moord - kon
wissel. Heelwat raaisels is nooit opgeklaar nie, soos die klomp diamante wat by
die baron se lyk langs die Malmesbury-pad buite Kaapstad gevind is.
In Jackson se geval ses jaar later het
die appèlhof wel bevind dat Jackson se wens om te sterf as versagting kon dien.
Die doodsvonnisse van sy vrou en twee
handlangers is na tronkstraf verander.
Dan was daar ook heelwat “politieke
moorde” wat wêreldwyd groot aandag getrek het. In die vroeë sestigerjare het
Poqo se terreurbestaan en vlaag moorde, en John Harris se stasiebom in
Johannesburg, opslae gemaak.
Die mees opspraakwekkende was egter die
moord in 1966 op Suid-Afrika se eerste minister, Dr. Hendrik Verwoerd, toe hy in
die Parlement in Kaapstad deur ’n bode met ’n mes doodgesteek is. Sy
moordenaar, Demitrio Tsafendas, is onbevoeg verklaar om verhoor te word en
sterf jare later in die ouderdom van 81 in die Sterkfontein psigiatriese
hospitaal.
Elf jaar na Verwoerd sterf ook die
swartbewussyns-leier Steve Biko na erge aanranding en marteling in
polisie-aanhouding. In 1999 verwerp die Waarheidskommissie die vyf betrokke
polisiemanne se aansoek om amnestie vir die moord, maar omdat die misdaad reeds
verjaar het, kan hulle nie vervolg word nie.
Of die dubbele moord op Dr. Robert
Smit en sy vrou, Jean- Cora, in 1977 op Springs aan die Oos-Rand ’n politieke
moord was, sal ons dalk nooit weet nie. Dit was wel een van die raaiselagtigste
moorde.
Smit, ’n briljante ekonoom, was die destydse
Nasionale Party se nuwe “goue seun” en parlementêre kandidaat vir Springs in
die 1977 verkiesing. Hy was voorheen werksaam by die Internasionale Monetêre
Fonds en by Santam Internasionaal, ’n frontorganisasie vir valutatransaksies
vir Suid-Afrika se destydse geheime wapenaankope. Daar is destyds bespiegel of
hy “te veel geweet het” of dalk iets wou oopvlek. Hy en sy vrou word in hul
huis, waar Smit ’n geheimsinnige “Mnr. MacDougall” moes ontmoet, doodgeskiet.
Die moordenaar/s verf die letters “RAU TEM” op ’n muur. Ondanks ’n omvattende,
jare-lange speurondersoek bly die moord onopgelos.
In 1975 word die Johannesburgse
bendeleier Denis Holmes in ’n bende-skietgeveg verlam. Die daaropvolgende jaar
word wraak geneem. Na ’n nag van seks en dwelms, vermoor Holmes, Budwa Thomas
en Xavier Tanse Leisher eers twee prostitute, Debbie Relling (21) en Irma
Keulder (24) en daarna die “opium koning”
Johnny Karam. Na hul arrestasie word Holmes staatsgetuie, Thomas kry nege jaar en Leisher die
doodstraf. Na drie jaar in die dodesel word Leisher begenadig en bring nog agt jaar
in die gevangenis deur.
Waarskynlik een van die mees
ontroerende moorde van daardie era was dié op twee laerskoolmaatjies, Kosie
Breedt en Johan Lubbe wat in April 1978 verdwyn het terwyl hulle in Hillbrow
geld vir hul skool ingesamel het. Na ’n soektog van tien dae is die twee se
verlepte en verminkte lykies tussen kosmosblomme by ’n spruit in die voorstad
Windsorpark gekry. Hul moordenaar is nooit gevang nie.